Kwaaiwater
GEPUBLISEER: OKTOBER 2023 | UITGEWER: HUMAN & ROUSSEAU
Speuradjudant Storm van der Merwe is terug vir die grootste uitdaging van haar loopbaan. Al is sy steeds besig om haar pa se dood twee jaar tevore te verwerk. Intussen hou Hermanus ʼn eerste skrywersfees. Deel van Storm se afgesaagde verpligtinge is om by die gemeenskapsaal kywie te hou voor die laaste Covid-regulasies uiteindelik opgehef word.
Maar toe daag Isa du Bois, die sterskrywer van die dorp, nie op vir haar sessie nie. Haar liggaam word dieselfde oggend nog in Kwaaiwater se Mosselrivier gevind. Vier en twintig uur later kom ʼn visterman af op nóg ʼn lyk – weer ʼn vrou, dié keer jonk en swart. En dan is daar ʼn derde slagoffer, ʼn belangrike kulturele rolspeler op die dorp. Drie dae, drie vroue. Hoekom drie, hoekom hierdie drie?
Storm is so toegegooi onder werk, sy is skoon bly oor oudkollega Andreas Moerdyk se knaende aanbod om haar te help. En al sukkel sy om dit aan haarself te erken, is dit nogals lekker om ʼn slag weer spanmaats te wees...