Curriculum Vitae

Irna slaag ‘n honneurs in Afrikaans en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch in 1978 nadat sy in haar derde jaar in DJ Opperman se letterkundige laboratoriumklas was. In 1979 doen sy Honneurs in Joernalistiek onder prof. Piet Cillié, ook op Stellenbosch. Daarna, in Desember 1979, begin sy as verslaggewer by Die Burger in Kaapstad te werk.

In 1981 wen sy die Stellenbosch-Boerewynmakery se prys vir ondernemende joernalistiek onder druk van tyd en omstandighede vir die vloedrampe by Laingsburg en spesifiek Montagu.

Haar kortverhaalbundel Grootmensspeletjies word in 1995 gepubliseer.

Sy verlaat De Kat in 1996 om terug te trek Kaapstad toe en stig New Media Publishing in 1998 saam met kollegas John Psillos, Naomi Herselman en Sheldon Cohen. Kort daarna word sy ook redakteur van Insig en van 2007-2009 redakteur van Boeke-Insig.

Sy tree in April 2015 uit as Redaksionele Direkteur van New Media om haar voltyds toe te spits op kreatiewe skryfwerk.

Sy is in 2015 deur Media24 vereer met die Piet Cillié-prys vir haar joernalistieke loopbaan en ook in 2015 deur Naspers met die Orde van Tafelberg vir haar bydrae as sakevrou aan die Naspers-groep.

Irna se eerste misdaadroman Moordvis (in Afrikaans) en Dead in the Water (die Engels vertaling) verskyn in Julie by Penguin.

In Maart 2018 word haar tweede spanningsroman, Gifbeker, gepubliseer.

Irna se derde misdaadroman, Bloedsteen, is in Maart 2020 gepubliseer.

Op ʼn mooi dag (uit in September 2021) is Irna se eerste sielkundige riller.

Ná ʼn hoogs suksesvolle medialoopbaan van meer as 40 jaar, skryf Irna van Zyl die afgelope agt jaar voltyds. Haar debuutkrimi was Moordvis, en daarna volg Gifbeker, Bloedsteen en Op ʼn mooi dag. Al vier titels het ook in Engels verskyn, en Bloedsteen is in Armeens vertaal. Kwaaiwater is haar vyfde spanningsroman. Sy woon in Hermanus.