‘n Eerste Toon in die Water

Na jare as redakteur en sakevrou maak Irna van Zyl vandeesmaand haar debuut as misdaadskrywer met Moordvis. En die lekkerste daarvan, sê sy, is dat dit haar weer soos ‘n groentjie-verslaggewer laat voel. Deur ELMARI RAUTENBACH

(‘n Geredigeerde weergawe van die artikel het in Die Burger en Beeld verskyn.)

Julle het ‘n huisie op Pearly Beach wat uitkyk oor die bosse en die see waarheen jy baie weggeglip het met die honde om te kan skryf; jou ouers het as afgetredes op Hermanus gewoon. Wat het jou twee en twee bymekaar laat sit – om Moordvis juis in daardie (of ‘n soortgelyke fiktiewe) omgewing te laat afspeel?
‘n Omgewing met vloede, paaie wat wegspoel, perlemoenstropery wat ongekende afmetings aanneem en haaihokduikery as groot toeriste-aanloklikheid was teen die einde van 2013, toe ek aan Moordvis begin werk het, die ideale plek om as agtergrond vir ‘n speurroman te gebruik. En ja, my ouers het 26 jaar op Hermanus gewoon en is albei daar begrawe. Vir my was dit belangrik om dinge makliker te maak waar ek kon, soos om ‘n bekende omgewing te gebruik. Daar was te veel ander goed – hoe om ‘n boek te skryf, onder meer! – wat vir my totaal onbekend, nuut en moeilik was.

Ons ontmoet vir Storm van der Merwe op die N2, in haar afgeleefde Volla, met haar hond, op pad na ‘n werk wat duidelik nie met haar posisie as polisievrou en speurder strook nie. Was dit van die begin af jou afskop?
Ek het die storie soveel kere herskryf ek kan skaars onthou wat regtig die begin was. Maar die oorspronklike werktitel was Snelweg en dit hét eers met die huidige hoofstuk een afgeskop, toe met hoofstuk vier, en toe wéér met hoofstuk een. Dinge gebeur maar soos wat ‘n mens herskryf en terugvoer kry, dis amper soos om ‘n laagkoek te bak! Ek het gevoel ek “kry” my hoofkarakter se persoonlikheid met dié huidige eerste hoofstuk. Dit plaas haar ook onmiddellik in die aksie.

Waar kom Storm vandaan, en hoekom juis ‘n vroulike speurder?
Storm was uiteindelik ‘n samevoeging van twee karakters uit die eerste weergawe van die manuskrip. Haar voornaam kom uit ‘n Sarie-artikel, en Van der Merwe, nou ja… Sy is so ‘n ietsie van myself, ‘n ietsie van ander mense en ‘n klomp verbeelding. Sy is vroulik, want dit is hoe die demografie van die polisie deesdae lyk – vol vroulike offisiere, en ‘n adjudant-offisier omdat hulle meestal die mense is wat al die harde werk in ‘n ondersoek doen.

Teen die muur van Grootbaai se kroeg (korreksie… restaurantkroeg, volgens die eienaars!) hang ‘n houtroeispaan waarop so ewe Tenk se kaksoek spaan in swart viltpen geskryf is. In hoe ‘n mate het jou jare as koerantjoernalis jou oog “ingestel”?
Misdaadfiksie vereis van jou om soos ‘n wafferse hardenuus-verslaggewer vir inligting rond te grawe en onderhoude te doen. Dit het my teruggevoer na my dae as junior verslaggewe in Die Burger se redaksie en by ‘n gemeenskapskoerant, waar jy van ‘n moord tot ‘n hofsaak tot ‘n blommerangskikkingkompetisie met ewe veel kleur en geur moes kon dek. Dan het die lekkerte van om ‘n boek in ‘n sekere omgewing te plaas dié voordeel dat jy plekke kan herbesoek en telkens lewer dit ‘n nuwe vonds op. (Hierdie was een.)

In hoe ‘n mate het navorsing jou skryfproses gehelp, en hoe gehinder?
As jy jou debuut met misdaadfiksie wil maak, moet jy as wegspringplek weet hoe die polisie werk, en jou onderwerp – die “hoe” en “wat” van die misdaad – ken. Gelukkig kan ‘n mens deesdae ontsaglik baie detail op die internet naspoor, al is dit net om daarna die feite of Suid-Afrikaanse hoek met mense te verifieer. Ek was geweldig bewus daarvan dat ek nié my navorsingsvondse moet oordoen nie en was ook versigtig om lesers met te veel feite toe te gooi. Tog is dit net so belangrik om met gesag oor sekere onderwerpe in die misdaadmilieu te kan skryf.

En waarheen het jou navorsing jou oral geneem? Jy sê wel jy kon jou nie sover kry om die post mortem van ‘n lyk by te woon nie, hoewel jy dit beskryf asof jy self daar was (en selfs ou Modise wat valerig daar uit is om gou te gaan “rook”)
Die eerste ding wat ek in 2013 gedoen het, was om in ‘n haaihok te duik. En het ek gesukkel om myself in ‘n nat duikpak te kry! Dis nou maar eenmaal nie ‘n mooi gesig vir ‘n middeljarige vrou nie.
Persoonlike ervaring het soms ook ‘n draai in die boek gemaak. Soos toe my kar gebreek het terwyl ek alleen met die twee honde en ‘n kat op pad was na Pearly Beach en ons in ‘n platwalorrie Hermanus toe gesleep is om net daarna weer die pad te vat in die kleinste gehuurde karretjie. Soos ons verby gery het, het mense langs die weggespoelde paaie letterlik uitgebars van die lag.
‘n Baie belangrike stuk navorsing het egter gekom van ‘n forensiese patoloog by die Universiteit van Kaapstad, dr. Linda Liebenberg. Sy het sekere prosedures in die fynste besonderhede aan my verduidelik. Dit het ontsettend baie vir my beteken en my ook gehelp het om meer detail in die nadoodse beskrywings in te bring.
En dan was daar ‘n insiggewende besoek aan die Abagold-perlemoenplaas op Hermanus.

Hoe moeilik was dit om die grieselige gegewe wat ‘n mens noodwendig in ‘n misdaadroman vind te beskryf?
Jy verbeel jou maar sekere gegewe en dan stop jy by ‘n punt. Ek het baie koerantberigte gebruik om my te help, byvoorbeeld ‘n storie waar ‘n foto gewys is van ‘n man wie se been deur ‘n haai afgebyt is, of andersins met polisiemanne en-vroue en ‘n private speurder wat ‘n oud-speursersant was, gesels.
‘n Misdaadroman steun op die verhaaltegniek wat ‘n mens as “showing” sou beskryf, maar partykeer is dit te moeilik en te gewelddadig om jou leser binne-in ‘n situasie te plaas. Dit is dan wanneer jy maar eerder vertel wat (jy dink) gebeur het.

Met soveel bloed en geweld, ook in die natuur, wat het jy as balans gebruik?
Humor, gebalanseerde karakters en veral empatie is dinge wat vir my belangrik is. Ek probeer dit illustreer met die die honde in die storie, Moerdyk en sy aweregse benadering en hopelik ‘n goeie skeut humor en menslikheid wat ook deur “kleiner” karakters, soos konstabel Kaptein en die sekuriteitsvrou Shaneen Presens ingebring word.

Die roman verskyn in sowel Afrikaans as Engels (as Dead in the Water). Was jy enigsins by die vertaalproses betrokke?
Daar was ‘n wonderlike span wat aan die Engelse vertaling gewerk het. Annelize Visser het die vertaling gedoen, met kreatiewe insette wat ek teruggevat het na die Afrikaans toe, soos byvoorbeeld hoe die Kubaanse dokter praat deur ‘n paar si’s in sy dialoog in te voeg.
Máire Fisher was die bedrewe redakteur, en Beth Lindop en Fourie Botha van Penguin Random House het met vlymskerp presisie die laaste oog oor alles gegooi en gehou.
Ek het die vertaalde boek in elke fase met groot opgewondenheid dopgehou en verstom gestaan oor hoe dit gestalte in ‘n ander taal kry. Dit was heerlik!

Hierdie is inderdaad jou tweede roman. Wat het van daardie eerste geword?
Dis ná omtrent vyftig herskrywings veilig weggebêre in ‘n onderste laai… Die hele proses, wat in totaal omtrent sewe jaar aangehou het, het my wel geleer hoe om ‘n boek te skryf. Ek gaan ook seker nooit ophou leer nie. En die bonus was dat twee uitgewers aangebied het om Moordvis uit te gee toe dit uiteindelik klaar was.

Jy het drie jaar gelede as ‘n verjaarsdaggeskenk ‘n kaartjie na die groot internasionale misdaadfiksiefees by Harrogate in Engeland gekry en julle het toe vir Karin Brynard saamgenooi. Die Old Swan Hotel daar is tot vandag toe bekend as die plek waar Agatha Christie gaan weggekruip het terwyl die hele wêreld gedink het sy lê iewers vermoor…
Die jaar toe ons daar was – 2013 – was Lee Child, Ian Rankin én Kate Atkinson daar. Die Skotse Val McDermid het twee panele gelei, en Jeanette Winterson het met Ruth Rendell gesels. Lauren Beukes was een van die genooide skrywers. Ons was selfs so gelukkig om in te kom by die Britse literêre agentskap Blake Friedmann (Karin se agente) se jaarlikse skrywerspaartie, waar ‘n mens heeltemal te veel wyn drink en die kans kry om met die Britse misdaadskrywers skouers te skuur.

Jy en Karin het toe sommer selfs ‘n slypskool daar bygewoon?
Ja, dit was ‘n eendag-slypskool net vóór die begin van die fees en ons moes as deel van ‘n groep van vyftien ‘n misdaadroman konseptualiseer. Dit het my geleer hoe jy jou storie uitwerk, jou karakters slyp en hoe belangrik die omgewing is waarin jou storie afspeel.

En bemarking? Die Amerikaanse Jonathan Franzen het gesê ‘n skrywer het vandag nie ‘n keuse as om homself te bemark nie … Wat doen jy?
Soveel ek kan sonder om ‘n fool van myself te maak!! Nee, ek het ‘n webtuiste, ‘n twitter-profiel en Facebook en ek probeer maar met innoverende idees vorendag kom. Ek het byvoorbeeld ‘n metaal-Volla met daisies op by ‘n kunstenaar op Stanford gekoop wat ek soms na boekbekendstellings sal saamvat, plakkate laat maak van die boekomslae en professionele foto’s laat neem van my met die honde. Verder probeer ek sover ek kan om ja te sê vir uitnodigings om by boekklubs te praat. Ek dink die heel belangrikste is wel dat die boek goed genoeg moet wees en dan veral ook die volgende een, waaraan ek reeds begin werk het.

Waar skryf jy?
Hoofsaaklik in my Tamboerskloof-studeerkamer, wat uitkyk op Tafelberg en Leeukop en my buurvrou se pragtige tuin. Smiddae “travel” ek deur die huis met my klein MacBook Air en gaan sit meestal by die eetkamertafel, maar ek het ook al lang tye by ons strandhuisie deurgebring waar daar net ‘n klein tafeltjie met ‘n lendelam stoel in ‘n hoek staan. Ek het nie regtig ‘n vaste plek nodig om te skryf nie, behalwe dat my oggend-ritueel van koffie, die honde se beddens eers studeerkamer toe sleep, en my plaasneem voor my klein laptop nogal baie vir my beteken …

Dis die een en enigste Stephen King, wat in sy skryfbybel van 2002 On Writing sê: “Write with the door closed, and rewrite with the door open.” …
Dit is sulke waar woorde daardie. Ek kan nie dankbaar genoeg wees vir al die terugvoer en aanmoediging wat ek al gekry het nie. Van Riana Scheepers se kort kursusse tot Madri Victor en Hettie Scholtz se geduldige advies met my eerste manuskrip tot natuurlik my uitgewer Fourie Botha en Karin Brynard se altyd vrygewige advies. Bygesê ek het ook gevind ek moenie enigiets vir iemand wys voordat ek nie gereed is om daardie terugvoer te kry nie.

En dan is daar die Friends-akteur Matt LeBlanc, nou die nuwe hoofaanbieder van Top Gear, wat op kritiek geantwoord het: “We’re not working on a cure for cancer, we’re just making a car show … ” Geld dieselfde vir skryf?
Ja, inderdaad. Die lewe gaan aan en skryfwerk kan nie ‘n plaasvervanger daarvoor wees nie, altans nie vir my nie. Terselfdertyd is dit darem nie net nog ‘n job nie. Hopelik raak dit iemand, maar dis nie hoekom ek skryf nie. Ek doen dit omdat dit so lekker is. En omdat ek so lank gewag het daarvoor.

Moordvis en Dead in the Water is uitgegee deur Penguin.