Baie welkom by Irna van Zyl se skrywerswebtuiste

‘N EERSTE TOON IN DIE WATER

Irna van Zyl

Fourie Botha, hoof van plaaslike fiksie by Penguin Random House, by Irna met die eerste twee kopieë van Moordvis.

Na jare as redakteur en sakevrou maak Irna van Zyl vandeesmaand haar debuut as misdaadskrywer met Moordvis. En die lekkerste daarvan, sê sy, is dat dit haar weer soos ‘n groentjie-verslaggewer laat voel. Deur ELMARI RAUTENBACH

(‘n Geredigeerde weergawe van die artikel het in Die Burger en Beeld verskyn.)

Julle het ‘n huisie op Pearly Beach wat uitkyk oor die bosse en die see waarheen jy baie weggeglip het met die honde om te kan skryf; jou ouers het as afgetredes op Hermanus gewoon. Wat het jou twee en twee bymekaar laat sit – om Moordvis juis in daardie (of ‘n soortgelyke fiktiewe) omgewing te laat afspeel?

‘n Omgewing met vloede, paaie wat wegspoel, perlemoenstropery wat ongekende afmetings aanneem en haaihokduikery as groot toeriste-aanloklikheid was teen die einde van 2013, toe ek aan Moordvis begin werk het, die ideale plek om as agtergrond vir ‘n speurroman te gebruik. En ja, my ouers het 26 jaar op Hermanus gewoon en is albei daar begrawe. Vir my was dit belangrik om dinge makliker te maak waar ek kon, soos om ‘n bekende omgewing te gebruik. Daar was te veel ander goed – hoe om ‘n boek te skryf, onder meer! – wat vir my totaal onbekend, nuut en moeilik was.

Lees Meer

Die Eerste Boek

Irna van Zyl se eerste misdaadroman, Moordvis (vertaal in Engels uit die Afrikaans as Dead in the Water) het pas by Penguin Random House verskyn.

In Moordvis ontmoet lesers vir die eerste keer Irna se twee speurders, Storm van der Merwe en Andreas Moerdyk.

Soos wat Storm se naam suggereer, het sy maar ‘n stormagtige verlede met ‘n hele klomp probleme van haar eie. Aan die begin van die boek bevind sy haarself teen haar sin op Hermanus en omgewing waar sy op die dorpie Grootbaai ‘n ondersoek begin nadat sy en honde afkom op die lyk van ‘n Johannesburgse joernalis wat sonder ‘n arm in ‘n vlak graf langs die strand begrawe is.

Intussen ondersoek haar oudkollega Moerdyk ‘n botsing op die N1 waarin ‘n Springbokrugbyspeler dood is. Heel gou begin Storm en Moerdyk wonder of hierdie ongeluk met haar saak verband hou nadat haar kar, ‘n ou Volla, amper afgeskryf is in ‘n soortgelyke ongeluk.

Storm en Moerdyk se omwentelinge laat beland hulle in groot moeilikheid – moeilikheid wat soms gevaarliker raak as ‘n duik in ‘n haaihok, sonder die hok.

Agtergrond

Irna van Zyl

Moordvis se eerste aand in die openbaar word met vriende gevier: van links Frans Rautenbach, Hannerie Visser, Elmari Rautenbach, Stefanie Hefer en Irna.

Irna van Zyl het sewe jaar gelede aan haar eerste misdaadroman begin skryf, maar ná vier jaar die handdoek ingegooi met daardie poging toe hy deur twee uitgewers afgekeur is. Sy het wel onmiddellik aan die werk gespring en tydens sabbatsverlof van Desember 2013 tot Maart 2014 die eerste weergawe van Moordvis, wat toe nog Snelweg geheet het, klaar geskryf.

Fourie Botha by Penguin Random House het onmiddellik baie belang gestel om dit uit te gee, maar ná twee lesersverslae het dit geblyk daar is nog werk om te doen. In April 2015 het Irna bedank om voltyds te begin skryf en het sy drie maande later die nuwe, totaal herskryfde weergawe van Moordvis vir haar uitgewer gegee. In Oktober verlede jaar het sy ‘n kontrak geteken dat die boek ook in Engels middel vanjaar by Penguin sou verskyn.

Curriculum Vitae

Irna slaag ‘n honneurs in Afrikaans en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch in 1978 nadat sy in haar derde jaar in DJ Opperman se letterkundige laboratoriumklas was. In 1979 doen sy Honneurs in Joernalistiek onder prof. Piet Cillié, ook op Stellenbosch. Daarna, in Desember 1979, begin sy as verslaggewer by Die Burger in Kaapstad te werk.

In 1981 wen sy die Stellenbosch-Boerewynmakery se prys vir ondernemende joernalistiek onder druk van tyd en omstandighede vir die vloedrampe by Laingsburg en spesifiek Montagu.

In 1985 word sy Die Burger se eerste vroulike hoofsubredakteur en in 1988 redakteur van De Kat in Johannesburg.

Haar kortverhaalbundel Grootmensspeletjies word in 1995 gepubliseer.

Sy verlaat De Kat in 1996 om terug te trek Kaapstad toe en stig New Media Publishing in 1998 saam met kollegas John Psillos, Naomi Herselman en Sheldon Cohen. Kort daarna word sy ook redakteur van Insig en van 2007-2009 redakteur van Boeke-Insig.

Sy tree in April 2015 uit as Redaksionele Direkteur van New Media om haar voltyds toe te spits op kreatiewe skryfwerk.

Sy is in 2015 deur Media24 vereer met die Piet Cillié-prys vir haar joernalistieke loopbaan en ook in 2015 deur Naspers met die Orde van Tafelberg vir haar bydrae as sakevrou aan die Naspers-groep.

Irna se eerste misdaadroman Moordvis (in Afrikaans) en Dead in the Water (die Engels vertaling) verskyn in Julie by Penguin.